Skip sink byna naby Gansbaai
GOLF AKSIE Massiewe golwe het Gansbaai Hawe Maandag byna verswelg (Foto Francois de Jongh)
Die plaaslike takke van die NSRI Hermanus, NSRI Agulhas, die SA Lugmag 22 Batteljon, sowel as die NSRI lug- en seereddingsdiens, die Titan/NSRI helikopter reddingsdiens, Overberg rampbestuur en Metro Ambulansdiens is Maandag op volle bystand geplaas nadat berigte ontvang is dat die 185 meter vragskip Nena J die risiko loop om op die rotse te loop naby Gansbaai.
Na bewering vervoer die vragskip staalpype van Indië na Chile.
Pogings deur 'n sleepboot om die vragskip met behulp van 'n sleeptou na die oop see te sleep was onsuksesvol. Die sleeptou het gebreek nadat dit deur 10m hoë golwe en sterk wind geteister is.
Die skip, met 'n bemanning van 16, het met die hulp van 3 bemanningslede van die reddingspan daarin geslaag om die vaartuig op anker te plaas ongeveer 5 seemyl vanaf Quinn's Point naby Pearly Beach.
Die reddingspanne het die situasie deurgaans gemonitor totdat die risiko verby was.
Teen druktyd was die vaartuig en bemanning buite gevaar en is reeds na veiligheid gesleep.
Caren Engelbrecht
Article courtesy of Overberg Venster










