|
Written by Tisha Steyn for Die Burger on 20 Feb 2010
George
’n Dun vislyn met ’n breekkrag van ’n skamele 12 kg is al wat tussen die wonderbaarlike redding van ’n vrou en ’n gewisse seedood gestaan het.
Die vrou, me. Sunyata Choyce, is by Kleinkrantz se hoofstrand uit ’n sterk seestroom gered danksy die hengelvernuf van ’n plaaslike hengelaar wat sy lyn akkuraat na haar gegooi en haar na veiligheid ingekatrol het.
Die 29-jarige Choyce van Kanada, stigter van die kindersorgorganisasie Project Colors, wat die afgelope drie jaar in Thembalethu werk, het Donderdagaand vroeg by Kleinkrantz by Wildernis se hoofstrand gaan swem.
Haar redder, insp. Jacques Snyman van die departement korrektiewe dienste, en sy hengelvriend, insp. Jacques Starbuck van die plaaslike polisie, het Donderdag toevallig enkele minute vroeër daar gaan hengel.
Hulle het pas onderkant die trappe by Kleinkrantz hul lyne ingegooi toe Choyce sowat 30 m van hulle af die water in is en in die moeilikheid beland het.
“Sy is sommer met klere en al die water in. Ons het dadelik gesien hoe ’n baie sterk stroom haar meesleur, het Starbuck gister vertel.
“Ek het vir Jacques (Snyman), wat die naaste aan haar was, gevra om dadelik sy lyn in te katrol en weer in haar rigting te gooi voordat sy dieper (see-in) getrek word.
“Sy was toe reeds omtrent 110 m diep. Met die eerste probeerslag het Jacques se sinker reg langs haar geval en sy het die lyn gegryp.
“Die stroom het haar nog sowat 40 m dieper gevat en Jacques het die lyn laat loop om te keer dat dit breek. Toe het hy haar stadig begin inkatrol soos ’n mens ’n groot vis kant toe bring.”
Dit het sowat ’n halfuur geduur om haar tot in die vlak water te bring en uit die see te help.
“Sy was afhanklik van daardie vislyntjie met 12 kg-breekkrag. As dit gebreek het, was sy weg,” het ’n skugter Snyman gesê.
Choyce kon gister die twee vriende nie genoeg bedank toe sy hulle saam met Die Burger by Snyman se huis besoek het vir ’n foto nie.
“Hulle was fantasties. As dit nie vir hulle was nie, weet ek nie wat van my sou geword het nie.”
Volgens haar het sy, toe die stroom haar vat, net gekonsentreer om te bly dryf.
“Ek het water gesluk. Eers het ek nie die lyn gesien nie. Toe kry ek dit beet.
“Ek was verstom dat iemand vir my ’n lyn gegooi het. Ek het my romp om die lyn gedraai om my hande te beskerm.
“Ek het aan die lyn vasgehou en verwoed met my bene geskop. Toe ek op die strand kom, was my bene soos jellie.”
Volgens Starbuck was hulle nie regtig lus om Donderdagaand te gaan hengel nie.
“Ons was moeg en nie lus om ver te loop nie, maar iets het vir ons gesê ons moet gaan. Dit was ’n bestiering.”
Volgens mnr. Hennie Niehaus van die Nasionale Seereddingsinstituut, wat deur Starbuck ontbied is, het Choyce nie mediese hulp nodig gehad nie.
- Die Burger
|